
die begin
22 April 2022 - Die begin van ons vir altyd-storie.
’n Vriendskap het begin wat meestal eenvoudig en moeiteloos was… behalwe vir die 1229 km tussen ons. Dit was gevul met suiwer vreugde — en ja, soms ook ’n paar uitdagings.
Die dae het altyd te kort gevoel, en die tye saam nooit genoeg nie. Tog, sonder dat ons dit besef het, het die dae in mekaar gevloei, en ons vriendskap het stilweg begin verander… groei tot ’n liefde wat ons nooit verwag het nie — dieper, sterker en onmiskenbaar.
die Liefde
En op 19 Oktober 2022 het alles verander.
Wat begin het as vriendskap, het ontwikkel in iets meer — beste vriende, en dalk… lewensmaats vir altyd. Afstand — tussen Pretoria, George en Frankfort — het ons vir drie jaar getoets, maar dit het nooit ’n kans gestaan teen ons liefde nie.
Uiteindelik het Mignon, die groot skuif na Pretoria gemaak—en skielik was die 1 229 km tussen ons net ‘n storie van die verlede. Vir die eerste keer kon ons begin bou aan ‘n lewe saam, sonder kilometers, kaarte en aftel-dae.
Wat begin het as eenvoudige ontmoetings in die kerk elke Sondagaand, het stil-stil ontvou in iets soveel groter as wat ons ooit self kon beplan. As ons terugkyk, sien ons hoe elke oomblik fyn uitgewerk was—so asof God lankal die storie geskryf het, en ons net die voorreg het om dit uit te leef.
Vir Altyd
En toe, op 1 November 2025—ná wat gevoel het soos ‘n baie geduldige wagtyd—het Marc uiteindelik op sy knie gegaan en die vraag gevra wat Mignon beslis nie oor en oor in haar kop geoefen het nie: “Sal jy myne wees… vir altyd?”
(Gelukkig het Mignon nie te lank gevat om te antwoord nie.) En die res, soos hulle sê, is geskiedenis—maar vir ons voel dit eerder soos die begin. Ons harte loop oor van opgewondenheid, ons lag nog meer as tevore, en ons stap hierdie nuwe hoofstuk binne met geloof, liefde, en net ‘n tikkie verligting dat die langafstand-dae verby is.
‘n Liefdesverhaal geweef in die hemel, geanker in geloof, en geskryf in die taal van vir altyd.